Ek verberg my agter eenvoudige dinge, sodat jy my sal vind

DSCN3064
Kirby van der Merwe

Beeld, 10 Februarie 2007.
(Het ook in Die Burger en Die Volksblad verskyn).

Tee met ‘n soetdingetjie, aparte ateljees, Ginserg op ‘n kussing, skulpe en skedels, en die allermooiste liefdesverklaring. Dís wat Kirby van der Merwe in Ingrid Winterbach en Andries Gouws se huis aangetref het.

Ingrid Winterbach is besig met haar geliefkoosde taak: Sy maak elfuur-tee.

“Tee en iets soets,” sê Andries. “Elke oggend op presies dieselfde tyd.” Hy sit op ‘n rusbank in die leefkamer van hul huis in Durban. Die huis staan teen ‘n steil hang. Buite is dit drukkend warm. Die oggendson het reeds aangeskuif tot op die houtdek wat oor die klein vallei uitkyk en dis koeler binne. Deur die groot vensters val die vallei diepgroen weg tot in die rokerige verte.

“Hy laat klink dit na ‘n ritueel,” sê Ingrid wat haar langs haar man op die bank kom tuis maak.

“Maar sy hét die tee en ‘n soetding nodig om nie onbehaaglik te wees nie,” sê Andries met ‘n skewe glimlag.

Hy het ‘n ligblou T-hemp aan waarop hul oudste dogter, Brink,’n reël van die Portugese digter Fernando Pessoa geborduur het: Há metafísica bastante em não pensar em nada.

“Pessoa, die grootste Portugese digter van die vorige eeu, het toevallig hier in Durban grootgeword,” sê Andries. “Er is metafysica genoeg in denken aan niets,” dink hy hardop. “Daar is genoeg metafisika in om aan niks te dink nie.”

Tussen hulle is ‘n kussing met ‘n reël uit die gedig “Howl” van die Amerikaanse Beat-digter, Allan Ginsberg daarop (geborduur deur hulle jongste dogter, Liesbeth-Helena): Holy! Holy! Holy! … the world is holy! The soul is holy! The skin is holy!”

“Nee, ek het nie oggendrituele nie,” sê Ingrid. “Eerder ‘n roetine. Ek skryf soggens. Nooit in die nag nie. Ek gaan stap tot so negeuur. Ek skryf elke oggend in my dagboek. Elfuur drink ek tee. Eet ‘n soet ding. Smiddae gaan ek Liesbeth by die skool haal. Dan hang ek die res van die dag hier rond; neem Liesbeth na waar sy moet wees. “Ek hou ‘n dagboek van die ouderdom van 14 jaar oud af, maar ek het vir my kinders gesê as hulle die dag van my begrafnis af terugkom, dan verbrand hulle al my dagboeke.”

* * * * *

Ingrid was tussen 1977 en 1990 kunsdosent aan die Universiteit van Stellenbosch en daarna, tot 2001, dosent in Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van Natal.

Skrywer van twee novelles en ses romans. In 1994 wen sy die M-net boekprys én die Ou Mutual Letterkundeprys vir Karolina Ferreira. In 2000 die W.A. Hofmeyr-prys vir Buller se plan. En die Hertzogprys in 2004 vir Niggie.

Sedertdien 2001 is sy voltyds skrywer en beeldende kunstenaar.

“Ek het ‘n belangstelling in letterkunde én beeldende kuns. Ek is meer gevestig as skrywer. Deur toeval, of hoe dit ook al gekom het. Maar ek moet albei doen. Ek het albei nodig.”

Andries het ‘n doktorsgraad in die filosofie en hy is filosofie-dosent by die Universiteit van Natal. Hy maak klein, subtiel en bedrieglik eenvoudige skilderye van alledaagse voorwerpe soos ‘n wasbak, ‘n ligskakelaar, ‘n koekie seep, ‘n onopgemaakte bed … “Dinge wat mense nie as mooi opval nie,” sê hy.

Dinge so alledaags dat jy nie twee keer daarna sal kyk nie, maar nádat jy sy skilderye gesien het, kyk jy met nuwe oë na die “eenvoudige” dinge rondom jou.

Sy reisende uitstalling, Hiding behind simple things, is tot 24 Maart in die Pretoria-kunsmuseum te sien. Dit het by verlede jaar by die Grahamstadfees begin en is sedertdien in Bloemfontein, tydens Aardklop in Potchefstroom, Johannesburg en by die Universiteit van Stellenbosch uitgestal. In April skuif dit na die KZNSA gallery in Durban.

* * * * *

Hoe leef twee hoogs skeppende mense, Winterbach en Gouws, onder dieselfde dak?

“Wel, ons het elkeen ons eie ateljee,” sê Ingrid en sy wys teen die trap op na die boonste verdieping.

“Nee, ná 18 jaar van getroude lewe én onderhandelings, is ons teen dié tyd baie seker van ons grense,” sê Andries. (Hulle is 20 jaar bymekaar, sedert hulle by een van die filosoof, Johan Degenaar, se gesprekgroepe in Stellenbosch ontmoet het)

Andries sê hy en Ingrid het gelukkig nie groot ego’s nie, maar: “sy het gekom met ‘n handleiding van vier bladsye. Die derde en vierde bladsye het ongelukkig verlore gegaan. Nou probeer ons naarstigtelik uitvind wat op die verlore bladsye gestaan het.”

En hoe gemaak met ‘n inwonende filosoof? Ingrid gee ‘n helder laggie: “Dit is soms ekstaties en soms nagmerrieagtig. Ek sê altyd ek is die liggaam en hy is die kop.”

* * * * *

Hulle het die nuwe verdieping verlede jaar aangebou. Die trap skei die twee ateljees: Ingrid se ateljee is ruim, want sy werk op groot velle papier wat op tekenborde teen die verste muur staan. Haar rekenaar en lessenaar staan teen die binnemuur. En tekenborde met tekeninge in verskillende stadiums van voltooing staan teen die oorkanste muur. Daar is ook rakke met ‘n versameling skulpe, skedels en brokstukke van miershope.

“Ek belê baie in wat ek sien,” sê sy. “Dit voed my. Ja, alles wat ek om my sien, wat ek in my ateljee sit, is dinge waaruit ek put.”

‘n Tekening met ‘n byna comic-boekagtige mensskedel bo die woord mortuum op ‘n geruite agtergrond spook by my: Waarom werk sy met die skedel?

“Die skedel?” Sy trek effens skouers op. “Ja, dis seker maar ‘n doodsmotief. ‘n Skedel is ook maar ‘n soort gesig… ‘n ander soort gesig.”

Skedels, skulpe en miershope fassineer haar: “Hulle is almal hol vorms. Hulle is almal op ‘n manier onveranderlik. Hulle is almal déúr ‘n soort metamorfose. Jy kan sê hulle het hul finale metamorfose bereik. Jy kan nie verder as skedel gaan nie. Jy kan nie verder as skulp gaan nie. Die miershoop word nie meer bewoon nie. Die skulp wás bewoon. Die perdeskedel wás ‘n dier.”

En waarom die geruite agtergrond op haar tekeninge?

“Jy staan voor die groot vel wit papier en dis skrikwekkend. Jy moet, jy moet dit binnetree. Waar begin jy?”

Sy praat met haar hande, volg die denkbeeldige lyne: “Ek begin met ‘n rooster. Ek trek ‘n rooster. Dis ‘n soort meditasie … dis ‘n manier om ín die wit papier in te beweeg. Jy begin jou arm vrymaak, die onbewuste inhoude kom lós.”

Sy teken ook meermale op ou tekeninge: “Dis makliker as daar reeds iets is, iets om op te werk. Ek teken laag op laag. Báie lae.”

Dis dieselfde wanneer sy met ‘n nuwe roman begin, sê sy: “Die eerste vyftig of so bladsye wil ek nie eers weet wat ek skryf nie. Jy maak jou oë toe en skryf sodat jy iets het om mee te werk pas as jy genoeg het, kan jy begin meet en pas en weef en spin.”

* * * * *

Sy is sku vir op-die-man af onderhoude, sê Ingrid ná die vraag of sy die struktuur van haar romans al die letterkundige verweefdheid voor die tyd beplan. Sekere motiewe is voor die tyd bedink. Sommige dinge gebeur terwyl sy skryf. Sy hou nie van live interviews nie want sy verkies die skans wat geskrewe antwoorde bied: “Jy kry mense wat op hul voete kan dink, wat die regte antwoord uit die lug uit kan pluk. Ek wil eers oor ‘n vraag nadink. Ek wil die woorde beheer, de leste een.”

Ná haar jongste roman, Die boek van toeval en toeverlaat (Human & Rousseau) beplan sy nou aan ‘n nuwe boek: “Jy begin met ‘n nuwe boek en jy is soos ‘n spons. Jy kyk na die wêreld met gespitste oë en ore. Selfs in die beperkte voorstedelike bestaan soos wat ek lei, kom daar nog genoeg na jou toe. Dinge kom uit die onderbewuste op. Die een ding lei na die ander. Jy lees hier ‘n boek en jy sien daar ‘n ding. Jy onthou dinge. Jy maak dinge mee. Die dinge begin saamval. Dit word ‘n ingewikkelde web tussen psige en buitewêreld.”

“Hoe weet ‘n mens wat alles op jou inspeel,” sê sy nadenkend. “Dis iets ongeloofliks, die proses. Jy weet dikwels self nie waaruit iets ontstaan het nie. Hoe weet jy wat jou alles ríg? Só, asof ‘n mens op ‘n groot doek werk. In elkgeval is dit so met teken.”

“Ek herskryf voortdurend,” sê sy. “Ek skryf vorentoe, ek skryf terug. Dis een manier om ‘n roman in jou kop te hou. En om te herskryf, te herskryf, te herskryf … ”

Ek vra wat sy vir haarself sê as sy snags wakker lê. Eers is sy onwillig om te antwoord. Dan sê sy: “As ek snags wakker lê dan sê ek vir myself ek is ‘n obsessiewe fine tuner.”

“As jy jou eerste boek geskryf het, dan is jy nuuskierig om weer te probeer. As jy by jou derde boek kom, dan is dit wat jy doen. Dan is jy gehook. Dan word dit ‘n lewenswyse.”

* * * * *

In sý ateljee sê Andries: “Toe ek jonk was het ek gedink daar is een of ander direkte spieël op die siel nodig wat niks met die alledaagse werklikheid te make het nie. Nou besef ek jy vind mense se siel in wat hulle doen, in wat hulle maak, in wat hulle sê.

“Natuurlik sal jy dit nie sien as jy nie kyk nie. Ek kies eenvoudige voorwerpe, maar ek dink my werk sê net soveel van myself as wat ‘n selfportret sou sê.”

Tussen die skilderye op sy (reisende)uitstalling is daar vyf wat hy tussen 2000 en verlede jaar van voorwerpe in Ingrid se ateljee geskilder het. Vier daarvan wys die hoek van ‘n staalkas met dieselfde beeldjies en ‘n perdeskedel en in een afdrukke van ‘n Vermeer-skildery.

Waarom het hy juis dié hoek, dié staalkas en voorwerpe in haar ateljee gekies?

Hy dink ‘n ruk na: “Ek hou nie daarvan om voorwerpe vir my skilderye te rangskik nie. Dis gewoonlik goed wat toevallig, lukraak, op ‘n sekere manier bymekaar staan. Maar soms skilder ek wel goed wat deur iemand anders gerangskik is.”

Wou hy dalk met dié vyf skilderye iets van Ingrid vasvang?

Hy sê nee: “Die skilderye is bloot wat hulle is. Ingrid het ‘n ongewone estetika. ‘n Ongewone manier om dinge neer te sit. Sy rangskik nie met die oog op ‘n skildery nie. Sy doen dit soos sy daarvan hou.”

“Maar wat sou Freud daarvan sê?,” vra Ingrid, “van die feit dat jy my ateljee skilder?”

Dit laat hom nadink: “Freud? Ja, as jy só daarna kyk dan het ek sekerlik iets van haar probeer vasvang. Ek weet nie of die skilderye haar opsom nie, dit sê wel iets oor haar ruimte. Iets oor haar gemoeidhede. My kop sê die skilderye het niks met Ingrid te make nie. Maar dit is tog háár ruimte, die ruimte van ‘n baie kreatiewe persoon. Die ruimte van my vrou, daar waar ek weet sy gelukkig is. Dan dink ek tog ek het onbewustelik iets gemaak omdat dit van Ingrid is.”

* * * * *

Die moto in die katalogus van sy uitstalling is ‘n gedig “ek verberg my agter eenvoudige dinge” van die Griekse digter Yannis Ritsos waaruit Andries die naam vir die uitstalling ontleen het.

Andries lees die Ritsos-gedig uit die Griekse digbundel voor: Die betekenis van eenvoud.

Ek verberg my agter eenvoudige dinge,
sodat jy my sal vind.
As jy my nie vind nie, sal jy die dinge vind.
Jy sal aanraak wat my hand aangeraak het,
Die afdrukke van ons hande sal versmelt …

“As ek iets oor myself wil sê, as ek iets in my eie stem sê waarin jy iets oor myself sal ontdek, dan is dit oor hierdie dinge waarvan ek praat,” sê hy op sy besadige manier. “Op ‘n soortgelyke manier sou jy dan kan sê Ingrid verberg haar agter háár dinge. Sodat ek haar kan vind.”

Daar is inderdaad genoeg metafisika in dít wat oënskynlik na niks lyk nie.

“Wat kan ek byvoeg? sê Ingrid. “Wat Andries gesê het, is so mooi dat ek kan niks verder kán sê nie. Dit is die soos die mooiste liefdesverklaring.”